Warning: Undefined variable $show_stats in /home/pfck1lu3zsb4/public_html/wp-content/plugins/stats/stats.php on line 1384

Francois van Coke – Die wêreld is mal

Ek het geluister na Willim Welsyn se interview met Francois Van Coke, toe ek vir Francois hierdie hoor sê: “Mense wil hê ek moet nog dieselfde wees as wat ek was 15 jaar terug. Ek hoor baie sulke kommentaar soos “Ek mis die ou, kwaad-Francois”. Dan dink ek jy moet passop dat ek nie kwaad word vir jou nie dude.

Mense verander, en ons almal word gevorm deur ons ondervinding wat ons opdoen deur te lewe. Elke liewe ding het op een of ander manier ‘n impak op jou. Dit geld vir ons almal, en ook vir Francois van Coke. Ek is een van daardie ouens wat baie hou van “kwaad-Francois”. Ek hou baie van kwaad-Eddie Vedder ook. Ek hou ook van mooi-Eddie Vedder ook, maar net oor my eie bullshit is dit nie my eerste keuse nie. Ek is mal oor alles Eddie Vedder (en ook Francois van Coke), maar ek verkies die harder musiek, oor die mooier songs iets roer in my wat my ongemaklik laat voel.

Wat presies dit is wat ek voel wanneer ek na van Eddie Vedder se mooier songs luister (kies enige song van Into the Wild af) weet ek nie, maar ek is meer as gelukkig om te erken dat daar al trane was oor watookal dit is wat in my geroer word.

Dit is my geloof.

Dit is ‘n spesiale plek wat ek afsonder vir baie min musiek, en nog minder musikante. Vanoggend kry ek die email oor Francois van Coke se “Die wêreld is mal” en so betree nog ‘n kunstenaar daardie bittersoet deel van my menswees.

As iemand wat onlangs self pa geword het, in ‘n tydperk van my lewe waar dit vir my ook voel asof ek nog besig is om my voete te vind, is “Die wêreld is mal” vreeslik naby aan die been gesny. Ek het nog altyd gedink die volwassenes weet wat aangaan, maar nou dat ek ‘n kind van my eie het weet ek vir ‘n feit dat niemand regtig weet wat regtig aangaan nie.

“Die wêreld is mal”

In Suid-Afrika is ons land se toekoms tans in een van die donkerste tydperke wat dit al ooit was. Het ek ‘n toekoms hier? Het my kind ‘n toekoms hier? Ongemaklike vrae wat ek soos meeste ander verantwoordelikhede in my lewe, probeer ontduik. Dit is ‘n spesiale stuk musiek wat daardie gevoelens voor en dag kan bring. Gooi dan die closing scene van die video in die mix en dit is verby.

Die wêreld is mal maar darem het ons mekaar en as die verlede iets is om te gebruik as maatstaf dan sal ons ok wees. Solank ons net ons deel doen, al voel dit hoe nutteloos, sal alles in plek val.

Die goeie nuus is dat die songs wat so aan jou raak dit altyd reg kry om jou beter te laat voel. Francois van Coke loop oor van die talent, of hy nou kwaad is of nie. Dit wys hy nou meer as ooit van te vore. Hy sny ook baie naby aan die been met sy musiek, dit is juis wat my oorspronklik gelok het na Fokofpolisiekar toe. Van die woede wat hy jare terug in sy musiek gesit het, tot die geluk van vandag, alles het ‘n impak gehad op nie net ons lewens nie, maar ook sy eie lewe. Na jare se werk, het alles nou mooi in plek begin val, en ek dink vir Francois van Coke se musiek is die ver van die einde.

Ons is gelukkig om musiek soos “Die wêreld is mal” te hê vir die soundtrack van ons lewe. Dankie Francois.

Vir al Francois se Gigs gaan loer gerus na francoisvancoke.co.za.
Twitter: @FrancoisVanCoke Facebook: francois.vancoke Instagram: francoisvancoke

You may also like...

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *