Deprecated: trim(): Passing null to parameter #1 ($string) of type string is deprecated in /home/pfck1lu3zsb4/public_html/wp-content/plugins/wordpress-seo/src/presenters/open-graph/image-presenter.php on line 102

Warning: Undefined variable $show_stats in /home/pfck1lu3zsb4/public_html/wp-content/plugins/stats/stats.php on line 1384

Beeld-onderhoud met Francois van Coke

Hy het min erg aan aardse goed en kan met ander se arrogansie saamleef. Ná ’n rowwe jaar is Francois van Coke van Van Coke Kartel op pad kansel toe. Dié groep se nuwe CD, Wie’s Bang, word einde vandeesmaand uitgereik.

Wat doen jy op Saterdae? | Ek is gewoonlik op pad na ’n show. As ek ’n af naweek het, sal ek al die rugbywedstryde probeer kyk en saam met my verloofde tyd deurbring.

Hoe lyk jou gemoedstoestand vandag? | Ek voel vandag heel goed, dankie. Ons het onlangs die vierde Van Coke Kartel-album voltooi, en ek is baie trots daarop. Ek sit op die oomblik langs ’n braai by my huis saam met die liefde van my lewe. Ek het die dag in die studio deurgebring om aan die eerste Vanfokkingtasties-album te werk. Dit gaan ’n album wees met akoestiese verwerkings van al vier bands wat VFKT vorm: Van Coke Kartel, Fokofpolisiekar, aKING en Heuwels Fantasties.

Wat behels aardse geluk? | Liefde en om bevredig te voel met wat jy met jou tyd doen.

Wat is die diepste put van ellende? | As dit op dieselfde tyd sleg gaan met die volgende drie goed: liefde, werk en finansies.

Waar woon jy, en waar sou jy eerder wou woon? | Ek woon in Woodstock in Kaapstad en is baie gelukkig hier. Op die oomblik voel ek baie bevoorreg om musiek te maak en steeds in die Kaap te kan bly.

Wat is jou grootste tekortkominge? | Ek vind dit moeilik om nee te sê en ignoreer eerder situasies as om die woord te spreek. Ek kry ook histeriese uitbarstings as ek ’n hangover het.

Met watter tekortkominge in ander kan jy saamleef? | Ek het al geleer om met ander mense se arrogansie saam te leef.

Wat kan jy nie verduur nie? | Ek haat verkeer, en ek haat dit om laat te wees.

En wie kan jy nie verduur nie? | Ek het nie regtig ’n probleem met enigiemand nie.

Wat is vir jou snaaks? | Boer Soek ’n Vrou is een van die vreemdste goed wat ek op TV gesien het.

Wie is jou lewende helde? | Madiba, Banksy en Schalk Burger.

Wie is jou fiksiehelde? | Kenny Powers, die hoofkarakter in die Amerikaanse TV-komedie Eastbound and Down. Hy is die snaaksste karakter wat ooit uitgedink is.

Wie is jou gunsteling- historiese figure? | Jan van Riebeeck en Harry die Strandloper. Ek dink hulle is die eerste ouens van wie ons in geskiedenis geleer het.

En jou gunsteling-musikant of -komponis? | Dave Grohl. Hy was betrokke by my gunsteling-groepe en -albums: Nirvana, Foo Fighters, Queens of the Stone Age en Them Crooked Vultures.

Wanneer en waar was jy op jou gelukkigste? | Ek het ’n rowwe en soms moeilike jaar gehad, maar ek dink ek is nou op my gelukkigste.

Watter oorsese stad sou jy graag nog wou besoek, en hoekom? | Daar is báie oorsese stede wat ek nog wil besoek; ek is mal oor reis.

Wie sou jy die graagste vir ete wou nooi? | My vriende.

Wat sou jy dan vir ete maak? | Ek kan net braai en spaghetti bolognese maak; dus een van die twee.

Watter eienskappe bewonder jy die meeste in ’n man? | ’n Man (wat) weet hy is altyd verkeerd.

Watter eienskappe bewonder jy die meeste in ’n vrou? | Dat sy sonder moeite in ’n ma kan verander.

Wat waardeer jy die meeste in vriende? | Dat daar mense is wat ek regtig kan vriende noem.

Watter deugde beïndruk jou? | Lojaliteit en onderskeiding.

En watter deugde laat jou koud? | Wysheid.

Francois van Coke | Foto: Kristin Mento

Waarmee verwyl jy die graagste jou tyd? | Ek het nie regtig veel tyd om te verwyl nie, maar as daar regtig tyd is om niks te doen nie, sal ek die PlayStation aanskakel.

Wat verveel jou? | Ek haat dit om te wag.

Wat is jou mees kenmerkende eienskap? | My dinosourus-hand wanneer ek sing sonder ’n kitaar.

Wat is jou grootste vrees? | Ek het gisteraand gedroom ek verloor in ’n poker-toernooi. Dit was ongelooflik scary, maar gelukkig speel ek glad niepokernie.

Waaroor is jy spyt? | Ek is baie spyt oor hoeveel keer ek al my selfoon verloor het; dit is belaglik.

Wie is jou gunsteling-skrywers? | Chuck Palahniuk, Hergé, Rockstar Games en Annie Klopper.

Wie is jou gunsteling-digters, en wat is jou gunsteling-versreël? | Leonard Cohen. “But, you don’t really care for music, do you?”

Wat is jou gunsteling-name? | John, Paul, George en Ringo.

Wat is jou gunsteling-voël? | Die aasvoël.

Oor watter gawe sou jy die graagste wou beskik? | Ek sou graag mense wou gesond kan maak.

Jou grootste uitspattigheid? | Laatnagpartytjies.

Wat is jou kosbaarste besitting? | Ek is nie regtig gepla oor materialistiese goed nie. My kosbaarste besitting is seker my kitaar, want ek het dit nodig om ’n bestaan te maak. As ek ’n nuwe een kry, sal ek vinnig die vorige een vergeet. Dus is dit nie so kosbaar nie.

Wie of wat is of was die liefde van jou lewe? | Lauren Wiid. Ons trou in Januarie.

Wat is of was jou grootste prestasie? | Ek het saam met vier ouens van Bellville ’n band begin met die naam Fokofpolisiekar.

Hoe sou jy eendag wou sterf? | Skielik.

Wat is jou lewensleuse? | Boom boom boom shake the room.

______________________________________

Hierdie onderhoud verskyn oorspronklik in Beeld en is nie deur gevaaalik.com gevoer nie.

You may also like...

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *