Word ek ouer en wyser, of net ouer?

Saterdagmiddag is ons by Ragnar se ouma en oupa se huis. Hy is baie bly want daar is ‘n swembad. Dit is bewolk maar steeds warm. Glo as gevolg van global warming volgens ‘n spul pro-Palestine protesters in Londen. Ek was onder die indruk dit is warm want dit is Desember in Pretoria. I digress.

Ragnar is baie opgewonde want my swembroek is aan my lyf. Omdat ek gebou is soos ‘n anoreksiese-windhond, swem ek nie sommer nie. My swembroek is ook al meer as 10-jaar oud en pas vir die eerste keer om my middel sonder dat my dick root se grasperk wys. Glo dit of nie ek het gewig opgetel oor die laaste paar maande. Ek dra ‘n pet om my kop se sonpaneel (bles) te beskerm van die son.

Histories is swembad-weer ook koue-drankie-weer vir my. Toe ek jonger was het ek nie gevoel asof ek veel struktuur gehad het nie. Ek het nie gevoel asof daar ‘n doel was vir my lewe nie. Ek het nie gevoel asof ek in pas by enige groep nie. Ek het nie regtig geld gehad nie. “Dwemels” (‘n noemnaampie wat opgemaak was vir dwelms) soos dop en boom het al daardie gevoelens laat verdwyn. Dit was natuurlik ‘n baie tydelike oplossing. Hierdie is iets wat ek voel baie keer aspris misgekyk word wanneer ons praat oor dwelms. Dit is nie net die dronk of hoog wees nie. Dit is ook die gevoel van nie meer sleg voel nie. Die afwagting vir die volgende kuier. Die onvoorspelbaarheid van die kuier. Die breek van sosiale angs. Ritueel, gemeenskap, identiteit is alles goed wat gekom het saam met die kuier. As jy dit nog nie gevang het nie, “kuier” is ‘n woord wat mense gebruik as ‘n eufemisme vir dwelms doen. Ja, alkohol is ook ‘n dwelm. ‘n Aanvaarde, aangemoedigde, maklik bekombare en sosiaal aanvaarbare dwelm. En dan eendag, doen die dwemels nie meer wat dit eens op ‘n tyd gedoen het nie. Die posetiewes raak ‘n groot, glurende negatief en jou kop doen alles wat hy kan om jou anders te oortuig.

“Rook en ‘n drankie help my ontspan.”

Ek dink aan hoe ek vir Ragnar gaan kan help om daardie mynveld van dwelms te kruis terwyl ek hom dophou soos hy swem. Ek raak skielik baie bewus van hoeveel ouer ek geword het. Ek rol my oë vir die “woke” garde. Ek is bles. Ek tel gewig op. Ek is vir meer as ‘n maand al nigter. Ek is bekommerd oor my kind se toekoms en of ek hom die toekoms gaan kan gee wat ek hoop ek sal kan. Ek dink die nuwe Fokofpolisiekar album is kak.

Fok.

Soos ek al hierdie dinge dink wil ek skielik my foon kry. My aandag aftrek. Ek sit eerder met my voete in die water en koester hoe ek voel. As daar een ding is wat tegnologie vir die mensdom gekweek het, is dit complacency. Voor global warming ons kry gaan ons onsself in ‘n wolk van rook van die krans af gooi, selfvoldaan. ‘n Genadedood as sulks, miskien. “Want die alternatief is te veel moeite.” sê ek perongeluk hardop.

‘n Nigter brein dink baie.

You may also like...

Leave a Reply

Your email address will not be published.