Strab 10 deur ‘n 6 duim skerm

Ek kon weereens nie die jaar Strab bywoon nie, tyd is geld en albei die dinge is ek te kort aan gewees om die jaar se Strab by te woon. Dus moes ek maar iemand anders vra om vir gevaaalik.com ‘n rekord te hou van Strab en vir ons bietjie terugvoer te gee. Die is Strab 10 gewees, een vir die fokken boeke het ek gedink. Dus is die wat jy hier onder lees nie deur my geskryf nie. Die persoon rol in sirkels saam met baie van die mense wat hy by Strab gesien het die jaar. Dit is hoekom hy besluit het hy wil eerder anoniem bly: “Ek hou van hulle. So onnosel soos van hulle mag wees, ek wil nie die een wees wat dit vir hulle uitwys nie.”

strab 10

Strab Ten, deur ‘n ses duim skerm

See, strand, goeie musiek en R&R, dit is Strab opgesom. Vir die laaste 6 jaar vat ek Strab as ‘n geleentheid om weg te breek, te ontsnap uit Suid-Afrika. Vorige jare het ek altyd sleg gevoel vir al my vriende wat op Facebook en Twitter moet lees hoe almal oppad is Strab toe terwyl hulle nog in goeie ou Pretoria sit. Gelukkig was Mosambiek se grens net so 6 ure weg en as jy eers deur die grens was het die Facebook status updates en die Twiets tot ‘n einde gekom. Min Strab-gangers bother met cellular roaming vir die een naweek ‘n jaar.

Om nie ‘n bruikbare selfoon te hê nie is elke jaar vir my deel gewees van Strab. Die gevoel van ontspanning wat oor jou kom wanneer jy vrede gemaak het daarmee dat Twitter nie sonder jou gaan vergaan nie, is onbeskryflik. Deel van die wonder van Strab was dat jy met mense kon gesels en ‘n gesprek is nooit in die rede geval deur ‘n foon nie.

Die jaar was Strab anders. Die musiek was nogsteeds ongelooflik; note klink net baie mooi wanneer hulle trek oor die strand en die see. Die jaar het ons blykbaar ‘n hele spul aapgras oor die grens gekry en as jy nog nooit ‘n joint op die strand gerook het tydens die sonsondergang nie, dan weet jy nie wat jy mis nie. R&R loop nogsteeds soos stroop en ek hou vol dat die Sparletta Rasberry (of Morango) wat mens daar te koop kry heeltemal anders proe as die wat ons hier in Suid-Afrika kan koop.

Ongelukkig het iemand ook uitgevind dat jy nou SIM kaarte kon koop en van daardie dag af is Strab net nie meer Strab gewees nie. Dit was nie lank voor elke Jan-trap en sy maat ‘n SIM-kaart gekoop het sodat hy tog net sy Instagram foto’s met almal kon deel nie. Ek kan met alle eerlikheid sê dat hierdie die eerste Strab was waar die gehoor se gesiggies gereëld daardie onnosel blou gloei gehad het van in check op Twitter.

Ek het oorspronklik jammer gevoel vir my vriende wat nog in Pretoria sit en het spesifiek gedink aan Stix wat se bloed teen die tyd sekerlik al gekook het van ‘n kombinasie van joelasie en haat vir die skape se Twiets. Die gevoel van jammer vir die in Pretoria het nie gehou nie, want dit was vinnig vervang met die jammer wat ek gevoel het vir die Strab gehoorlede met die blou gloeiende gesiggies.

Hier sit jy op een van die mooiste plekke in die wêreld met van die beste musiek wat enige persoon voor kon vra en al wat jy wil doen is Twiet en Facebook en Instagram en Foursquare en en en en. Saterdag oggend het ek my pad gemaak na ‘n plek wat ‘n foon gehad het sodat ek vir Stix kon kontak.

“Hoe is Strab?”

“Ongelooflik, soos gewoonlik. Maar ook anders. Ek weet jy het my gevra om te skryf oor Strab vir gevaaalik.com, maar miskien moet jy iemand anders vra.”

“Nee fok man, wie anders sal ek vra? Wat is jou storie?”

“My storie is die problem. Ek het nou al ‘n hele paar notas gemaak, maar dit wentel meer om die swape met hul fone as wat dit gaan oor Strab.”

“Watse swape met hul fone?”

“Die wat nou Mozam SIM-kaarte het en dus heeltyd op social media is.”

“As dit deel is van die storie, sit dit in. Ek publish wat jy vir my gee.”

“Dit wil net vir my voorkom of mense hul lewens nie meer kan geniet sonder om ander te wys dat hulle hul lewensgeniet nie, en in die prosses geniet hulle nie hul lewens nie.”

“Fok die swape man. Daardie is dan jou angle, hardloop met dit. Vertel die storie van Strab en hoe mense hul lewens deur ‘n ses duim skerm probeer lewe, terwyl daar niks fout is met hul geheu of hul oë nie.”

“Ek gaan nie my naam op die een sit nie, ek wil nie infamous wees nie.”

“Nes jy wil, sien jou Sondag aand.”

Dit is die eerste keer dat Stix my gevra het om iets vir gevaaalik.com te skryf en vir die eerste 15 minute in die kar oppad terug het ek net gesit en staar na my rekenaarskerm. Die woorde wou nie kom nie. My laptop se battery was darem vol want ek het hom nie een keer gebruik die naweek nie, en dus kon ek my storie toe uit kry. Die storie van Strab wat nooit weer Strab sal wees nie. Dit is nou Strab deur vierkantige ogies, LED-gloei-gesiggies en gesien deur die skerm van ‘n foon. Ek het altyd gehoop Stix is verkeerd as hy sê mense is verveeld met hul lewens. Ongelukkig is dit nou vir my meer duidelik as ooit van te vore: Mense is nie net verveeld met hul lewens nie, hulle wil almal anders ook dood verveeld met hul vervelige lewens.

You may also like...

1 Response

  1. May 27, 2014

    […] Daar is baie mense wat sê hulle wil iets vir gevaaalik.com skryf. Dit is gewoonlik so ver soos wat meeste van daardie mense kom. Dit is hoekom ek gister so verbaas was toe ek die stukkie hier onder gekry het. Die ou het nie eers gevra nie, hy het net besluit om sy kant van die jaar se Strab te deel met ons. Hier is dus nog 'n stukkie deur 'n leser wat ook anoniem wil bly. 'n Ander kant in vergelyking met gister se stukkie. […]

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *