Warning: Undefined variable $show_stats in /home/pfck1lu3zsb4/public_html/wp-content/plugins/stats/stats.php on line 1384

Nuwe poll: Wie is die beste van hierdie sangers?

Gister het gevaaalik.com vir jou die nuus gebring dat Mr Trololo (Eduard Khil) oorlede is. In die gees van die Trololo Song wil ons graag uitvind wie volgens die lesers van gevaaalik.com die beste sanger onder hierdie vyf is:

Mr Trololo (Eduard Khil)

Mr Trololo (Eduard Khil) is kandidaat 1. Khil was verbasend genoeg tot onlangs net bekend in Rusland, waar hy tydens die jare van die Sowjetunie groot sukses behaal het met treffers soos die Trololo Song. Onlangs het hy internasionaal bekend geword nadat die musiekvideo van die Trololo Song op YouTube beland het en die wêreld verslaaf geraak het aan sy edele musiekvorm. Hy kon blykbaar eers nie verstaan of mense regtig van hom hou of net spot nie, maar veral in Rusland het dit geblyk dat mense werklik weer van sy genre begin hou het. Hy het sy aftrede opgeskort en weer begin toer.

 

Bles Bridges

Bles Bridges is kandidaat 2. Hy is bekend vir sy uitspattige sequin-uitrustings. Modekenners het jare na sy dood gemerk dat hy die reeks Strictly Come Dancing jare vooruit was met sy skitterende pakkies, en sy kenmerkende styl het veral die kostuums van vrouedeelnemers beïnvloed. Hy was ook ‘n sanger, veral in myndorpe, waar hy rose uitgedeel het aan oorgewig Afrikaner-tannies. Sy grootste nalatenskap is egter nie sy sequin-pakkies, styl, sy myndorp-en-rose joie de vivre, of sy musiek nie, maar eerder sy dogter Sunette, ‘n sanger met ‘n lewe so na ‘n skinderjoernalis se hart. Sy is daarvoor bekend dat sy nie weet hoe om haar privacy settings op Facebook te werk nie, en sy het dus in die kak beland omdat almal haar en haar aanhangers se rassistiese gesprekke kon lees. Dankie Bles!

Jim Reeves

Jim Reeves is kandidaat 3. Eerstens is meneer Reeves ons cliché kapitalisties-Amerikaanse teenhanger-sanger vir die Russiese (en honderd keer cooler) Mr Trololo (Eduard Khil). Tweedens was Reeves destyds ‘n moerse sensasie in Suid-Afrika terwyl die res van die wêreld besig was om te kyk hoe Elvis Presley in ‘n orgie van pynpille en stroop-en-spek-broodjies vergaan. Reeves was in baie opsigte ‘n voorloper van die Troebadoer van die Oos-Rand (Bles Bridges), en hoewel hy in Texas gebore is, het hy so tuis gevoel tussen Afrikaner-tannies wat Crocs sou dra as dié skoene al daardie tyd bestaan het dat hy sommer ‘n paar albums in Afrikaans ook opgeneem het.

 

Johan Stemmet

Johan Stemmet is kandidaat 4, en hy het ‘n besliste voorsprong bo die ander: Hy leef nog. As mens kyk na die foto van Stemmet hiernaas sou mens amper dink hy is bekend vir sy asemrowende haarstyl (a la Ron Burgundy) en stylbepalende bril, maar mens sou verkeerd wees. Stemmet is bekend as vervaardiger en aanbieder van die okkultiese musiekprogram Noot vir Noot, wat al vir dekades Saterdae-aande opfok. Natuurlik is hy nie net hiervoor bekend nie, hy is ook ‘n sanger. Dit is egter nietighede, want soos Shakespeare, Alexander Pope, C.J. Langenhoven en ander groot geeste sal Stemmet onthou word vir sy bydrae tot ‘n taal. Hiermee verwys ons spesifiek na die patronising uitdrukking “Vyftig randjies vir jou!” wat veral deelgeword het van pimp-lingo in Suid-Afrika.

Gé Korsten

Gé Korsten is die vyfde en laaste kandidaat in die gevaaalik.com poll, maar hy is beslis nie die onbelangrikste nie. As die seun van Nederlandse immigrante het Korsten groot naam gemaak in Suid-Afrika, eers as opera-sanger en akteur, en ook later as populêre sanger. Sy bekendste liedjie, “Liefling”, word ook sedert die negentigerjare met die Blou Bulle en man-tot-man rugbyaksie geassossieer. As die karakter Walt Vorster het Korsten ook Afrikaner-tannies op die klein skerm vermaak in die Franz Marx sepie Egoli. Hy moes ongelukkig die sepie verlaat nadat die aktrise Chantelle Stander Rankin (Kimberley) sy kar se remolie-pype geknip het en die werksatmosfeer op die stel ondraaglik geraak het.

 

Stem nou regs bo-aan die bladsy vir jou gunsteling!

You may also like...

2 Responses

  1. Badass says:

    hier kom nog n R50 randjies, aitsa met die komplimente van absa…..what a wanker!

  1. June 14, 2012

    […] van Trololo Okay, okay, okay. Ek is seker julle wil my nou al skiet oor my afgelope posts (hier en hier) albei oor Mr Trololo (Eduard Khil) was. Hierdie is egter net te gevaaalik om nie met ons […]

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *