gevaaaliKruger – Vroegste voël vang die wurm

Dankie aan King Price wat hierdie trip vir ons moontlik gemaak het.

Hierdie is die podcast weergawe van dag 3 as jy eerder wil luister as die storie lees hier onder die podcast. Ja, ons praat dalk oor goed wat jy nie oor sal lees nie.

In die Krugerwildtuin staan jy 05:00 op, as jy wil. Ek het my hele lewe nog om in Pretoria te lê en poepruik in die bed. As ek in Kruger is staan ek vroeg op om uit die ruskamp uit te waai sodra die hek oopmaak, 06:00 in Julie. Jy moet weer 17:30 terug in die ruskamp wees, so hoe vroër jy aan die gang kom, hoe beter. Hulle sê dat diere die mees aktief is gedurende die vroeg oggend en laat middag. Vir my maak dit meer sin om so daaraan te dink:

Hoe meer tyd jy buite die kamp spandeur hoe meer kanse het jy om cool goed te sien.

Hou jou “Kruger Sightings” app maar vir jouself en die clueless toeriste wat Kruger toe kom. Diere in die Krugerwildtuin is nie vasgebind nie en hulle het nie hokkies nie, hulle kom en gaan soos hulle wil. Om ‘n leeu, ‘n luiperd of enige dier te sien is pretty much net ‘n “regte tyd, regte plek” situasie. Dus gee ek myself soveel kans as moontlik.

Skuins na 05:00 is ek en Sven op. Ons pak dinge in die Pajero sodat ons ontbyt kan gaan maak by Afsaal, ‘n picnic plek in die Kruger. Ons pak ook genoeg ander dinge sodat ons die dag sal kan oorleef in die kar. Snacks, water, naartjies, goed om toebies te kan bou, die basics. Mens weet nooit wanneer jy dalk vir ure lank op een plek gaan moet bly sit in die kar nie. Daar is nie Mr. Delivery in die Krugerwildtuin nie. 06:10 is ons uit by die hek.

Die vroegste voëls ry in die donker

Hulle (weereens weet ek nie wie hierdie “hulle” is nie) sê die vroegste voëls vang die wurm. Ek dink hulle lieg, want al die vroegste voëls sal net soos ons amper niks kan sien nie, want dit was nog pretty much donker.

Kruger Park South Africa sunrise

Om die sonsopkoms te sien terwyl ons ry was ‘n belewenis. Die bosveld kan magic maak met vroeg in die oggend en daar was ‘n paar keer wat Sven en my se bekke albei oopgehang het, en nie oor ons nog half aan die slaap was nie. Ek is nie baie vol voorstelle nie, veral nie voorstelle vir ‘n spul vreemdelinge nie, maar ek het een voorstel vir jou. Iets wat jy op jou bucket list kan sit. Dit is ‘n maklike bekombare bucket list item:

Sien ‘n bosveld sonsopkoms. Al wat jy hoef te doen is sit en kyk. Ek is seker daar gaan voorstelle wees vir hoe om die ondervinding nog meer mind blowing te maak, en ons kan dit sommer in die comments bespreek. Maar jy kort nie veel nie, jy moet net kyk. Koffie op ‘n koel oggend is altyd lekker, so vat miskien ‘n fles saam. Dit is die moeite werd.

Koffie en beskuit in die Krugerwildtuin is ‘n moet

By enige van die ruskampe in Kruger is daar sulke handige kombuisies getrooi deur die kampterein. By hierdie kombuisies sal jy ‘n stofie of twee vind waar jy jou kossies kan maak, daar is kookwater en wasbakke sodat jy jou skottelgoed kan was.

In my kop hoor ek ‘n Nataniël stem: “Ugh, fantasties.”

Dit is by een van hierdie kombuisies in Pretorius kop waar Sven ons fles vol kookwater gaan maak het terwyl ek my bek gaan skrop het in die ablusiegeriewe. Ons was albei ongelooflik dankbaar vir die koffie toe ons stop by ‘n dam daardie oggend en besluit om vir so uur of wat daar te sit. Beste ding van alles is ons het sommer ‘n fles by Checkers gekry vir net R50 wat twee koppies by het. Die beskuit wat ons gekoop het om saam met die koffie te verslint het amper meer gekos as die fles, en hy het gewerk soos ‘n bom.

Camping hot water flask

Twee koppies koffie was die orde van die dag terwyl ons gesit en kyk het na seekoeie, rooibokke en ‘n spul waterbokke. Daar was ‘n spul luigat varswaterskilpaaie wat in die middel van die dam besluit het dit is te veel moeite om uit te swem, toe gaan lê hulle sommer en bak op ‘n seekoei se rug. Dit is seker die outcast seekoei wat geen seekoei-vriende het nie, dus laat hy die varswaterskilpaaie rustig by hom hang.

Hippo with terrapins in Kruger Park South Africa

Dit is droog, maar niks is besig om te vrek van die dors nie

Hulle (weereens, wie demoer is hulle?) het gesê om nou die Krugerpark te besoek gaan nie ‘n goeie idee wees nie. Glo is dit vreeslik droog en diere is besig om links en regs te vrek van die honger en die dors. Vrot karkaste so ver as wat die oog kan sien. Sover lyk elke rooibok wat ons al gesien het lekker vet en ons het nog geen karkaste gesien nie. Ja, die bosveld is droog, maar dit is winter dommie. In die noorde reën dit in die somer. “Hulle” weet duidelik nie waarvan hulle praat nie.

gevaaalikKruger (6)

Kudu in Kruger Park South Africa

Kruger Nasional Park South Africa Elephant

Op die ou einde van die dag is “hulle” seker maar net jaloers op die feit dat ons sit en koffie drink langs ‘n dam in die bosveld, terwyl hulle in hul kantoor sit en hulself afsloof vir ‘n fat cat wat wens hy hoef jou nooit verlof te gee nie.

Be lekker, respekteer die natuur

‘n Renoster is ‘n vreeaanjaende dier. Hulle is kolosaal. Veral die witrenoster. Dink gou aan jou VW Polo, ‘n witrenoster is groter as dit. Toe ek en Sven twee witrenosters links van ons sien wat loop in die rigting van die pad het ons gestop. Ons het nie net gestop om te kyk nie, maar ook so ent reverse, om pad te maak vir die renosters om oor die pad te kan loop, soder dat ons hulle pla.

White rhino in Kruger Park South Africa

Dit was nie lank voor ‘n ander kar voor ons ingetrek het en parkeer het reg in die renosters se pad. Jou funksie in die Krugerwildtuin as besoeker is om te beskou soos ‘n vlieg op ‘n muur. Hoe minder van ‘n impak jy het op die diere en omgewing, hoe beter. Jy ry al klaar met ‘n besoedelmasjien op paaie rond, hoeveel meer wil jy hê? Ek was verbaas met hoeveel keer ek ook goed soos rommel langs die pad of in die bosvel gesien het. As jy nie eers jou eie gemors in jou kar kan hou en in ‘n asblik kan gooi nie, is jy die dier. Hunter S. Thompson het dit die beste gesê:

Human beings are the only creatures on Earth that claim a god and the only living thing that behaves like it hasn’t got one.

As jy ooit die voorreg het om na die Krugerwildtuin te gaan, wees die vlieg op die muur, nie die brommer op die drol nie.

Kingfisher in Kruger Park South Africa

Lilac-breasted Roller in Kruger Park South Africa

Hyenas in Kruger National Park

Oppad terug na die ruskamp sien ons ons eerste roofdier, hiënas. Hulle lê en probeer bak in die laaste middag son langs die pad. Ons was net na 17:20 terug in Pretoriuskop ruskamp. Ons besluit om bietjie potjiekos te maak, en vir ons eerste try doen ons glad nie ‘n slegte job nie. Brag ek nou oor potjiekos maak, asof jy alles nie net in die pot moer nie.

Camping in Kruger

Dit was rustig om die vuur, tot ons bure op ons begin fluister-skree: “Daar is ‘n olifant oppad na julle kant toe.”

Gelukkig is die reusagtige dier aan die ander kant van die draad. Hy loop nie eers tien meter voor ons kamp verby nie en ek en Sven besluit altwee om hom te volg soos hy verby beweeg. Ons was nie eers 5 meter agter hom aan nie voor hy in die donker omvlieg asof hy Bryan Habana is wat side-step soos in die ou dae. Die geluid wat hy toe maak is moeilik om te beskryf, maar dit is ‘n tipe van lae-stadige-brul wat die naaste ding is wat ek al gehoor het aan ‘n “brown note“. Met die geluid vries ek en Sven altwee en begin dadelik agteruit loop. Hy het homself duidelik gemaak.

Alle foto’s onder kopiereg van Sven Claassen.

King Price gevaaalik.com

Het jy geweet as jy jou kar by King Price verseker kan jy vir net R1 ekstra ‘n maand jou duur kamera of jou golfstel ook verseker? Jou kar se versekerings premie raak ook minder elke maand, soos jou kar se waarde daal. Plus, meeste mense wat deur ons ‘n free quote gekry het by King Price was aangenaam verras om te sien dat dit goedkoper is as hulle huidige versekering. Los nou jou naam en nommer hier en King Price sal jou bel vir ‘n free quote. Die ergste wat kan gebeur is jy spaar jouself so paar rand. Plus, hulle ondesteun ons, dan weet jy hulle is cool.

Vir meer gevaaaliKruger:

You may also like...

1 Response

  1. November 28, 2016

    […] foto hier bo is een van die foto’s wat ons geneem het tydens gevaaaliKruger. Jy kan meer lees oor ons hele trip, hier. Lekker stukkies vermaak om jou besig te hou en te help jou volgende avontuur […]

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *