Swaar storm tref groot musiekfees in België

Pukkelpop, Hasselt, België – Die Pukkelpop-musiekfees is vroeër vanaand deur ‘n swaar reën- en haelstorm getref wat oor dele van België getrek het. Drie mense is dood en talle beseer. Dié fees is naas Rock Werchter die tweede grootste jaarlikse musiekfees in België.

Tente en verhoë is verwoes deur die storm wat ongeveer net tien minute geduur het. Op hierdie stadium is daar nog geen definitiewe syfers nie, maar volgens die organisasie wat Pukkelpop reël het die storm die lewens van ten minste drie mense geëis, terwyl elf ander mense swaar gewond is en tot sestig ander ligte beserings opgedoen het. Die storm het slegs enkele minute gewoed, maar derduisende euro’s se skade is aangerig. Nie net is tente en verhoë deur die storm omgewaai nie, maar seile is heeltemal verskeur en groot bome is ontwortel of het gebreek en bo-op van die tente beland. Selfoonnetwerke is tans nog oorlaai, maar die Hasselt-distrik het vinnig hul noodplan in werking gestel, en na wat verneem word het alle beskikbare nooddienste hul na die gebied gesnel.

Vanaand se shows is afgelas uit respek vir diegene wat gesterf het, en ‘n minuut van stilte is vir hulle gehou. Tienduisende van die besoekers bly steeds op die kampterrein.

Pukkelpop is ‘n jaarlikse fees met ‘n program gepak met musiek uit baie verskillende genres, onder andere metal, rock, pop, hip-hop en dance. In 2009 is Pukkelpop deur die loop van die fees deur nagenoeg 180 000 mense bygewoon. Red Hot Chili Peppers, Metallica, Guns N’ Roses, Daft Punk, Nine Inch Nails en Iron Maiden is van die bekende groepe wat al in die verlede by dié musiekfees opgetree het. Hierdie jaar se headliners is Eminem, Foo Fighters en The Offspring.

Die fees is ‘n kindred spirit van Oppikoppi, so as jy Twitter gebruik, gee #Pukkelpop ‘n mention van support (@pukkelpop).

 

1 Response

  1. August 19, 2011

    […] Pukkelpop fees is amptelike gekanselleer. 'n Sterk storm het gisteraand die feesgronde getref. Vyf mense is dood, tien is ernstig beseer, en honderde ander […]

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

string(7) "primary"