RAMfest 2012 Johannesburg: Waar was jy?

RAMfest 2012 is die afgelope naweek verby. My nek, lyf en lewer kan getuig daarvan. Ek het blou kolle, my stem is vandag al meestal terug, my longe is gaar en my lewer is baie bewus dat ek baie dors was.

Ons was 11 v.m. by Aandklas in Hatfield. ‘n Uur later was ons op die Hotbox Express se bus. Ek het op die bus geklim met ‘n vyf liter brannas en Coke mix wat ‘n vriend gebring het. Daar was Jägermeister en allerhande ander bottels wat ook die bus deur rondtes gedoen het. Ons het sigarette gerook wat baie soos dagga geruik het. Daar was ook ‘n meisie wat baie eager was om van ons Jägermeister te drink en ons het gedeel met ‘n smile. Nie baie lank daarna nie was die jong dame die eerste slagoffer van die party wat RAMfest 2012 was. Ek het lanklaas iemand by ‘n bus se venster uit sien katte skiet.

Op die bus was ook een van my ou skoolvriende. Aangename knaap. Hy is nou in die besigheid van siele koop. Nie lank nie toe het hy vir hom twee siele aangeskaf teen die prys van R100 per siel. Blykbaar is dit die enigste prys waarteen ‘n siel verkoop kan word. Gelukkig was daar entertainment op die bus in die vorm van ‘n kotsende dame en die sielhandelaar, want die fok weet ons het gesit in die verkeer. ‘n Bus vol mense wat wil party raak baie vinnig warm – fokken warm.

Gelukkig was daar ‘n groot tent waar ons bier kon koop toe ons by RAMfest opdaag. Daar is bier gekoop en toe dadelik weer bier gekoop, want ons was dors. Toe word daar nog baie bier gekoop deur die loop van die dag, want dit was warm en die skaduwee was min. ‘n Klein groepie van ons wat steeds bymekaar was het ons gatte toe vir ‘n wyle geplak reg voor die biertent in ‘n skadukol.

Nie lank nie toe klim Fokofpolisiekar op die stage en ons maak ons pad in die rigting van die goeie klanke. Ek het Fokofpolisiekar lanklaas saam gesien. Ek was terleurgesteld om te sien dat Hunter nie saam met die band opgetree het nie. Selfs Johnny was dan daar. Dit was ‘n bittersoet oomblik vir my. Fokofpolisiekar bly een van die beste live acts om te sien, die musiek en show is briljant. Maar die feit dat Jedd op die stage was in Hunter se plek het dit tot my laat deurdring dat Fokofpolisiekar nooit weer sal wees wat hulle was nie. Hartseer, maar waar.

Die volgende band wat ek gesien het, het my amper van my voete af gemoer. Grootendeels omdat ek nie veel verwag het van Awolnation nadat ek hulle album gehoor het nie. Dit is nie dat die album sleg is nie, Awolnation klink net vir my beter live. Dit was intense en dit was rock. Awolnation live is eintlik ‘n rock band, klipharde rock ‘n roll. Selfs “Sail” het jou laat kopskud. Hulle drummer is ongelooflik en hy slaan elke keer die tromme of simbale so hard as wat hy kan. Awolnation was die verrassing van die dag en ek was meer as beïndruk.

Die volgende band wat my laat stilstaan en kyk het, was ‘n band wat dit al ‘n paar keer gedoen het. Maar ek dink The Narrow se preformance die jaar by RAMfest is die beste The Narrow show wat ek al ooit gesien het. Dit was tydens The Narrow se set wat my lyf en die moshpit die eerste keer kennis gemaak het dié aand. Ek is nie gebou vir daardie kak nie, maar dit was alles die moeite werd. The Narrow was tight en ek is trots om te sê dat ek van dieselfde land af is as hulle. Hulle het die metal gebring.

Nou die oomblik waarvoor almal gewag het. IN FUCKING FLAMES! As far as sound goes het In Flames die skaal tot die maksimum gedruk. Dit was hard en dit was metal. Die guitars was solid en het my soms laat dink ek luister na my iPod. Die manne van Gothenburg was bly om in Suid-Afrika te wees en die Suid-Afrikaanse crowd was bly om hulle hier te hê. Anders Friden se stem is ongelooflik – ek weet nie hoe hou dit vir die hele show nie, en dan chat hy nog tussen song lekker met die gehoor ook. Ek was wel verbaas oor hoe kort hulle set was. Ek was nog meer verbaas dat hulle nie teruggekom het na die stage vir ‘n laaste song of twee nie. Miskien het die crowd nie hard genoeg gevra nie, maar dit het hard geklink van waar ek gestaan het.

Kort nadat In Flames klaar gespeel het, is ek op Posduif se bakkie saam met vyf ander ouens daar weg. Ek was gebreek. Die lirieke van In Flames se een song beteken nou vir my baie: “I feel like shit, but at least I feel something”. Ek is dalk seer, maar ek sal dit alles môre weer doen. Well done aan die organizers van RAMfest, dit was ‘n job well done. Julle sien my beslis volgende jaar weer. Kom ons hou by die metal en bring Lamb of God volgende jaar oor Suid-Afrika toe.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

string(7) "primary"